Thursday, March 29, 2012

Groot gewas. Driekie Sterf vir 20 Minute


Die duiwel wou my vrou se lewe steel.
Jesus gebruik ook Dokters om sy werk te doen!


Mei 2006
Saterdag ry ons fiets op Vanderbijlpark. Lekker koel windjie.
Ek ry die 40 km. Driekie ry saam met haar kleinseun Drickus die 10 km
Ons almal het dit baie geniet. Ons kuier by ons dogter Sanet op Sasolburg.

Die middag kla Driekie oor 'n effense hoofpyn. Sy steur haar nie daaraan nie

Sondag kla sy nie. Die middag ry ons Secunda toe. Dis nou die plek wat jy kan sien wat jy inasem. Ons bly in Trichardt. Dis reg langs Secunda. Steenkool en brandstof is verantwoordeik vir Secunda se ontstaan.

Driekie konk uit

Maandag aan die ontbyt tafel. Ons sit en gesels .  Ek kyk na Driekie en haar oë staar dak toe. Iets is fout. Ek roep haar naam. Geen reaksie. Wat nou?

Ek help haar grond toe. Sy word naar. Ek gaan haal vinnig 'n emmer. Sy gooi op. Sy's bietjie deurmekaar. Ek laat haar op die grond lê. Dis wat ek gedoen het met die epilepsie. Hierdie ding is anders.

"Driekie kan jy opstaan"  Sy probeer. Hier is groot fout. Haar krag is skielik weg.

Ek help haar kamer toe op 'n matjie. Sy help en ek sit haar in die bed. Ek bel die dokter. Sy aanbeveling. Pynpille.  Ek los haar by die huis en ry apteek toe. Niemand om na haar te kyk nie.

Terug by die huis gee ek haar die pille met water. Sy sluk dit en gee die glas terug.

Driekie Sterf
 Sy sak terug op die kussings en kreun: "O MY KOP!" En sy blaas haar asem uit.

Ek kyk na haar. Ek wag vir die inasem . Niks. Ek wag nog. Steeds niks. Goed. dan "CPR".  25 Jaar gelede op 'n pop saam met 'n klomp mans het ons noodhulpklasse bygewoon. Dit was 'n groot grap.

Nou moet ek dit doen. My eerste gedagte. Saterdag 10 km fiets gery. Sondag effense hoofpyn. Nou dood. "No ways." Ek het glad nie gedink aan dood nie. Ek het besluit ek sal nie ophou blaas nie. SY SAL LEEF!
Ek onthou. Kop af, skouers op. Ek begin blaas. Die lug kom uit deur die neus. O K druk die neus toe. Blaas die lug wil nie ingaan nie.

Die tong het terug gesak. Blokkeer die lugpyp. Dan harder blaas. Ek doen 2 hart masserings en sê elke keer "Driekie haal asem" Ek stoei. Partykeer vat ek die tong en probeer hom uit die keel uit trek. Hy gaan net eenvoudig dadelik weer terug.

My bene is lam langs die bed. Elke keer "Driekie haal asem."

Ek onthou die selfoon langs haar, Ek skakel my dogter Daleen. Sy bly in Secunda. "Kry vir ons 'n ambulans of 'n dokter" Ek dink aan suurstof.

Toe gaan ek aan en nou sê ek nie meer "Driekie haal asem" nie

Met elke blaas  "Jesus Help" Ek blaas hard. Skielik kry ek die idee om haar kop langs die kant van die bed af te trek. Nou lê ek omtrent op my maag en blaas, Elke slag "Jesus Help" Ek het glad nie aan dood gedink nie.

Ek het nog so geblaas toe hoor ek 'n sagte insuig geluid. Uuurg!  "Yes Yes"  Dit was die mooiste geluid wat ek nog gehoor het. Nog 'n paar blase toe haal sy self asem. DANKIE JESUS.

Dit was 'n gespook van 20 minute, maar sy LEEF. DANKIE DANKIE JESUS

Dokter toe

My dogter en 'n jong man daag op.  Ons dra haar kar toe. Dit was moeilik sy was heeltemal slap. In die kar gooi sy op. Ons jaag dokter toe. Op pad gooi sy nog op. Ons keer met 'n baadjie van Daleen. Die dokter het net een kyk gegee. "Hospitaal toe".

Dis nou Evander Staatshospitaal. Hulle ontvang haar dadelik.  Hulle sukkel om haar bloed druk te neem. Byna geen druk nie. Hulle wil 'n "drip" opsit. Hulle sukkel lank om 'n aar te kry.

Hulle besluit sy moet na die groter hospitaal in Witbank gaan. Sy's toe Witbank toe met die ambulans. Ek en Daleen is agterna met my kar.

Verwarring.

Hulle neem plate en besluit sy moet Pretoria Akademies toe gaan. Ek vra vir die Ambulans manne wat gaan hulle doen. Hulle antwoord: "Die ambulans is in 'n swak toestand. Ons gaan terug Evander toe" En hulle ry.

Nou wat nou. Evander kon juis niks doen nie. Ons besluit om terug te ry Evander toe. By die hospitaal. Niks. Hulle weet nie waar Driekie is nie.

Ons ry Pretoria toe en kry haar daar. Nog baie deurmekaar, maar O K.

Die volgende oggend.

Driekie leef, maar die regter oog kyk skeef en sy is siek. Wat 'n skok die vrou wat ek liefhet is heeltemal skeel. Ek hou my sterk en troos haar so goed as wat ek kan. Bederf haar met eetgoed.

Prof Shapiro en sy span ondersoek haar en hulle laat brein skanderings doen.

Ek bly by Hennie in Culinan. Ek slaap die nagte daar en bedags gaan ek hospitaal toe. Driekie wil nie hê ek moet huis toe kom nie.

Drie weke van wag. Drie weke wat ek in die parkeer area deurbring  Dit lyk of hulle nie weet wat om te doen nie. Dan besluit hulle om more te opereer. Ek wag in die wagkamer om te hoor hoe laat.


Die volgende oomblik kom Eddie Gurnell ingestap. Hy is nie meer by Akademies nie. Hy is by Little Company of Mary. Hy's die een wat gesê het vyftig vyftig, maar oor die ander vyftig bid ons.

Toe hy my sien sê hy: "Mnr van Tonder wat doen jy hier" Hy het my onthou en hy vra wat gaan aan. Ek sê hulle moet opereer. Sy opmerking: "Daardie klip. Laat ek gaan kyk"


Hy werk nie meer daar nie. Wat het hy daar kom maak? Ons glo Jesus het hom gestuur.

By Driekie aangekom vra hy haar hoe gaan dit?  Sy kyk in sy blou oë en sê vir hom sy sien dubbel visie. Dit het gelyk of die ander dokters haar nie verstaan nie. Hulle weet mos nie of sy van nature skeel is nie.

Hy het na die ander dokters toe gedraai en vir hulle gesê hulle moet nog toetse doen.

By my aangekom vra ek hom of hy sal bystaan met die operasie. Hy't gesê hy sal en hy het, alhoewel hy niks gekry het vir die operasie nie.

Ons het nog 'n week gewag vir die groot dag.


Sukses
Na die operasie het ek hom en Dr Joubert raakgeloop en gevra hoe dit gegaan het. Sy antwoord was. "Dit gaan goed. Dis die klip wat haar wou doodmaak. Hy het haar brein ingedruk. Toe ons hom weg geboor het, het die brein opgestaan en in sy normale posisie gaan lê".

Dankie Dokter!

Toe ek by haar kom het die oog al reg getrek. Was ek bly en dankbaar.

Sy sê die regter oog is nou 'n bietjie stadig, maar dit hinder haar nie.

Haar susie se gewas was so kwaad dat haar brein uitgepeul het.

 Nie een van die 3 gewasse was kwaadaardig nie. Na 3 dae was Driekie by die huis en sy is gesond tot vandag toe.

ONS IS NET BAIE DANKBAAR TEENOOR DIE HERE JESUS.

DIS NET GENADE

Wednesday, March 28, 2012

Gewasse Op Die Brein

Epilepsie bekruip ons met 'n  Mond Vol Bloed 


Die Jaar 2002.  2 Uur die oggend

Terwyl ons slaap begin Driekie gil, 'n Onaardige gil. Ek weet nie wat gaan aan nie. Sy lê styf geskop en haal snaaks asem. Ek is heeltemal oorbluf. In die styfskop het sy van die bed af geval. Haar tong is stukkend gebyt.

Ons bel die ambulans. Toe hy arriveer was sy al by haar sinne. Nog baie deurmekaar.
Sy kom mooi by,  Sy wil by my weet wat gebeur het.


Ek weet van die Epilepsie niks nie. Ek was so verward. Wat is dit? Wat kan dit wees?


Die volgende dag is ons Dokter toe. Hy kan vir ons niks doen nie.


Daarvandaan is ons Witbank toe. Hulle neem plate. Hy sê dis bloeding op die brein. Bespreek vir ons by Akademies in Pretoria.


Ons ry huis toe. Ons is lief vir mekaar. En ons huil altwee. Wat gaan nou gebeur? Is dit nou dalk die tyd wat ons paaie gaan skei. As dit so moet wees, ek weet Driekie het oorgegee aan Jesus, maar ek... sonder my vrou.



Ons ry Pretoria toe in stilte, met baie vrae. Dan bid ons en vra hulp van Jesus.


Plate is geneem. Dr Bezuidenhout sê ons moet onmiddelik die gewasse laat verwyder. Hy wou plek bespreek in die hospitaal, maar ons was nie tevrede nie.


Driekie se sussie het ook 2 gewasse gehad. Toe hulle opereer peul die brein uit en sy is binne 3 dae dood. Dit was in 1998.


Ons is huis toe. Ons het besluit om te wag.  Ons dokter het pille aanbeveel wat die epilepsie onder beheer gehou het. Die aanvalle is redelik ver uit mekaar uit en ons leef daarmee saam.


Ons besluit om Suidkus toe te gaan vir 'n week. Ons weet mos nie hoe lank ons nog bymekaar gaan wees nie. Ek wou my vrou nog geniet.




Ons het die week geniet. Elke dag saam golf gespeel. Shelley Beach. Margate. Port Shepstone. 


Nou leef ons net vir vandag. Ons bid baie. Ek hou die aanvalle dop. Dis lelik. Gewoonlik is haar mond stukkend en  vol bloed.


In 2005 begin die aanvalle vinniger op mekaar kom. Sy begin sit en staar. Stel nie meer belang in dit wat om haar aangaan nie


Sy begin met 'n sin en kan dit nie klaar maak nie. Sy vergeet haar klein kinders se name. Sy kan nie haar blaas beheer nie.


Dis toe dat ons besluit ons het nou nie 'n keuse nie. Ons is weer Akademmies toe in Pretoria.


Ons twee meisies het saam gegaan.  Eers plate geneem. Hulle twee wag vir die plate. Die vrou wat die plate vir hulle gee om dokter toe te neem vra vir hulle: "Hoe lank het julle ma al die kanker"


Asvaal met groot oë kom hulle by ons aan.


Dr Eddie Gurnell bestudeer die plate en hy sê ons moet dadelik opereer.


Ek vra hom wat haar kanse is. Sy antwoord:  "Vyftig vyftig, maar oor die ander vyftig bid ons".


Ons was so dankbaar vir hom. Hy weet hy kan sy bes doen, maar hy het nog die hulp van ons HERE JESUS nodig.


Die operasie is geskeduleer en ons is eers terug Secunda toe.


Die oggend toe hulle haar instoot na die operasie area, staan ek nog haar hand en vashou. 'n Verpleegster kom uit een van die kantore en begin sing. Dadelik kom die hele klomp bymekaar. Lees Skrif uit die Bybel en bid.



Kan jy dink hoe het ek gevoel het. Dankie JESUS SY'S IN GOEIE HANDE.


Na die operasie gesels ek met Dokter Eddie: "Dis 'n sukses. Die een gewas kon ons so te sê
afskep. Die ander een is in die brein in. Ons kon hom nie heeltemal verwyder nie, Ons het tot by die brein gesny en hom toe gebrand. Die ander een agter is groot, maar dit is 'n klip, hy sal niks maak nie"


Binne 4 dae is Driekie by die huis. Haar epilepsie is weg en haar blaas is terug na normaal
toe. Haar geheue is terug en skerper as voorheen.





BAIE  DANKIE JESUS 

====DIE KLIP MAAK AMOK====

Tuesday, March 27, 2012

Staan op God se Woord



Olie verdwyn. 
Moeilikheid Op Delareyville

"Waar is hierdie 3 dromme olie. Jy is verantwoordelik. Ek wil weet wat van die olie geword het".

Dit was my baas Mnr Cedric Brown van Klerksdorp. Op hierdie stadium was ek Depot Bestuurder op Delareyville.

Elke maand kom my hoof en hy doen inspeksie van ons Depots. Ons kry elke maand 'n produkte lys van die Kaap af. Hier het Mnr Brown gesien dat die olie kort is.

Ek het geskrik. Onmiddelik voel ek skuldig. Wat nou?

Hy dring aan op 'n antwoord. My antwoord: "Mnr ek weet nie maar dit sal uitkom"
Ek het dit nie gevat nie. Dis Trekker olie.

Onmiddelik na hy weg is roep ek my manne bymekaar en probeer uitvind wat van die olie geword het. Niks. Ek kontak die karweier Niks. Dan kontak ek Amie Strauss ons verkoopsman. Ook niks. Ek bietjie moedeloos.

Met die volgende besoek was Mnr Brown baie nukkerig.  Ek het nie geweet wat om te doen nie.

Na sy vertrek loop ek tussen die olie dromme en ek gesels met Jesus. Die volgende oomblik kom die Skrif in my kop op, WERP AL JULLE BEKOMMERNIS OP HOM, HY SORG VIR JULLE.   1 Pet 5: 7

Onmiddelik sê ek: "Jesus ek gooi hierdie probleem op U"  Ek het bedoel wat ek gese het.

Om die eerlike waarheid te se ek vergeet skoon van die probleem.

Ek moet net iets hier verduidelik. Ons olie is van die Rafinadery in Durban per trein na ons toe gestuur.

Mnr Brown kom besoek weer. Hy kyk na die produkte lys. En toe gil hy dit amper uit:
"Wat gaan hier aan"  Hy kyk my op en af en ek voel of ek kan wegkrimp. Daar heers 'n lang stilte.

Ek skraap moed bymekaar. "Mnr wat is dit"

Nog stilte. Toe kom sy antwoord stadig: "Ek weet nie, maar die Rafinadery het die olie terug geskryf na hulle toe. Dit is nie meer op jou boeke nie"

Kan jy dink hoe het ek gevoel. Ek slaak 'n sug van verligting. "Ek het Mnr mos gese dit sal uitkom"

En dadelik begin ek vir Jesus dankie se. Ek was so bly. Sy beloftes is so groot en  ons kan staan op sy beloftes. My God sorg vir ons.

En.
U Woord staan vir altyd vas in die hemel
U trou is van geslag tot geslag.
Ps 119:89


Friday, March 23, 2012

Heilige Gees

EK WIL DIE HEILIGE GEES Hê


Kom ons gesels oor die Heilige Gees.

In die begin het die Heilige Gees oor die waters gesweef

Sonder die Heilige Gees was Jesus nie daar nie.

Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek.
Dis by Maria.

Sonder die Heilige Gees was Jesus nog in die graf, want die Heilige Gees het Hom opgewek 

Sonder die Heilige Gees . . . . . .

Nee asseblief nie. Hy's dan die krag van God.

Ek het by die biblioteek in Delareyville 'n boek oor die Heilige Gees uitgeneem. Geskryf deur 'n belangrike persoon. Ek kan nie eers meer sy naam onthou nie. Ek het die boek gelees en ek kon nie begryp hoekom net predikante die Heilige Gees moet hê nie.

Ek het gesien dat Jesus die Heilige Gees gestuur het vir 120 in die bo-kamer en hulle was volgens my, die meeste gewone gelowiges. As hulle die Heilige Gees kon kry wil ek Hom ook hê.

Ek het bly soek en gesien hoe baie oor die Heilige Gees gesels is.

Onder andere hierdie gedeelte:
1Co 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Ek wil nie so wees nie. Ek wil hoor as God met my praat. Ek sien baie dinge van die Heilige Gees. Ek sien die 9 gawes van die Heilige Gees.
Ek sien dat die Heilige Gees vir Paulus rond stuur. Ek sien in Romeine 8 dat almal wat hulle deur die Gees van God laat lei die is kinders van God.

Ek wil ook deur die Heilige Geese gelei word.

So gebeur dit dan ook dat ons weer in Klerksdorp by die mooi Haleluja liedere beland. Die aand het die Pastoor die Heilige Gees in sy gedagtes. Hy nooi toe ook die ouens voorentoe wat die Heilige Gees wil ontvang.

Ek was daar! Maar onnosel dit was ek. Ek het nie mooi geluister wat die Pastoor gesê het nie. Van sy helpers bid vir my. En hulle vra my om die woorde wat in my kop opkom te bid maar nie Afrikaans nie. Ek het niks gewaar nie en hulle was seker maar bietjie moedeloos met my.

O ja. Driekie het die Heilige Gees ontvang met die spreek in tale. Ek was so 'n bietjie jaloers, maar het niks gesê nie.

Die volgende dag by die werk dink ek steeds na oor die vorige aand. Man, ek wil dit hê. Intussen bly ek bid en gesels met Jesus. Dit hou so aan vir die volgende paar dae.

En skielik daarna loop ek deur die depot op inspeksie en die volgende woorde kom in my op: "AQUA AVANTE EL SOL" Nou wat se woorde kan dit wees. Klink vir my "stupid" Maar die woorde bly herhaal in my binneste. Kan dit dalk woorde van die Heilige Gees wees.

Ek raak oortuig dat dit moet wees wat die Heilige Gees wil he ek moet sê. Ek begin toe die woorde oor en oor sê. En hier in my borskas begin iets gebeur wat ek nie kan verklaar nie. Dit was so 'n lekker warm gevoel. So of daar dalk meer is as net my hart en longe en maag.

Toe onthou ek die woorde in 1 Korinthiers 14. "Die wat in tale praat bou homself op" Dan moet dit wees wat met my besig is om te gebeur.

Ek het gejubel en nou herhaal ek die woordjies met die grootste plesier. Maar skielik kom daar nog woorde by en ek kan nou amper 'n gesprek voer met die woorde. Wat 'n blydskap spring in my op.

Jesus het my 'n nuwe taal gegee. En dit is 'n taal wat ek nie eers verstaan nie. Maar as ek stil bly en wag dan kom die Afrikaanse woorde na my toe. Ek besef toe dit moet taal en uitleg wees. Dis gelykstaande aan Profesie.

Nou kan ek gelei word deur die Heilige Gees. En daar is so 'n gejubel in my dat ek sommer begin sing het in die nuwe taal.


Jy moet sien wat sê die Amplified Bybel van die Heilige Gees.

Hy is:

Comforter

Counselor

Strenghtener

Stand-by

Helper

Intercessor

Stand-by

Hoe kan ek ooit bestaan sonder hierdie wonderlike Persoon?.

                  -----------AAN GOD AL DIE EER----------




































 










.



Tuesday, March 20, 2012

Jubel Fees * Vakansie * Oorpyn * en 'n Engel

Ek glo Jesus gebruik ook mense as engele!

Ons vakansie het ons so beplan dat dit saam val met 'n Christen Kamp op 'n plaas naby Warmbad. Wat 'n fees. Ons het behoorlik gesweef in die heerlike teenwoordigheid van die Heilige Gees.

Na die afsluiting skuif ons met die Karavaan Warmbad Vakansie Oord toe. Lekker warm water. Vriende van ons Doepie en Drienie was deel van hierdie lekker tyd.

Vleisbraai was aan die orde van die dag. Jy moet weet die swem het ons lekker honger gemaak.

Die aand het ons nog lekker om die kampvuur gesit toe my dogter Daleen na ons toe kom met 'n oorpyn. Jy kon sien die kind het geweldige pyn. Ons het saamgestem en gebid. Dit is die eerste ding wat ons altyd doen, wanneer pyn kom. Dit was te laat vir Dokters en pynpille. ons het besef dit is 'n aanval van die vyand.

Ons het tot laat met Daleen wakker gebly. Later het ons almal ingesluimer en aan die slaap geraak. Toe ons die volgende oggend wakker word, makeer Daleen niks. Oorpyn geheel en al weg. Dankie Jesus.

Dit is tyd om huis toe te gaan. Ons pak alles die oggend op en ek "check" gou my kar se water en olie soos ek dit altyd doen.

Nou die lang pad terug huis toe. Ek en Driekie stem saam en ons vra die Here se seën op ons pad terug Delareyville toe.

Ek wonder of ons vyf kilometers uit Warmbad uit was. Toe kom 'n kar van agter af by ons verby. Ek sê vir Driekie die ou het seker iets vergeet want hy is nounet van vooraf verby. Hy trek ons af.

Ons hou stil en hy kom met bakarm aangestap. Hy kyk na Doep se kar, skud sy kop en kom na ons kar toe aan. JA sê hy. Dis die een."JOU KAR HET AL SY WATER VERLOOR"

Ek dog hy maak 'n grap. Ek maak die "bonnet" oop. Hael die prop af. Die kar was nog nie eers warm nie. Niks. Al my kar se water is weg. Daar was water in 'n kannetjie in die karavaan . Ons gooi water in en groet die ou met baie dankbare harte. WAS DIT NIE VIR HOM NIE HET MY KAR BINNE DIE VOLGENDE KILOMETERS "OPGEPAK" Enjin tot niet

Dink dsaaraan hy kom verby maak 'n "U TURN" trek ons van die pad af en help ons. Ek glo Jesus was goed vir ons. Hy het die ou gestuur en ons weet nie eers wie dit was nie. Hy kon nog .n engel gewes het

Dankie Koning JESUS



Sunday, March 18, 2012

Die NAAM wat bo elke NAAM is. JESUS



DAAR IS ONTSETTENDE KRAG
IN DIE NAAM VAN JESUS!


Hier volg nou nog 'n ware storie om vir julle te laat verstaan wat se mag en gesag Jesus aan ons as sy kinders gegee het. My sussie kan van die waarheid getuig. Sy bly nou in Pretoria.

Ons het vakansie gehou in Durban. Ansteys beach. Man wat 'n lekker vakansie.

Op Pad terug Delareyville toe besluit ons om by my sussie Elna en haar man te oornag.

Hulle het gebly op'n plaas by Senekal. Die plaas Terra Bona.

                                           
Ek moet nou eers vertel van my Karavaan.
Dit was 'n Caravette 5 met 'n "vinyl" dak.
Hy het nog gestink na die nuut reuk.
Dit was ons trots gewees.
Ek het gesorg dat Driekie nie moet sukkel
en dan moeg word vir die karavaan nie.
Hy het alles gehad wat sy nodig kon kry.

'n Besoek deur Jesus





GENESING-SONDAGSKOOL- DIE UITTOG

Sondagskool Handboek

Hier begin 'n nuwe pad.

Ek hou Sondagskool vir die std 5 kinders. Driekie vir die Kleineres.

Ons les vir die dag. Goddelike genesing is nie meer vir vandag nie. Dit was vir ons 'n groot skok. Driekie het nou ontslae geraak van haar windopbrekery en nou moet ek die kinders leer dat God nie meer vandag genees nie.

Hier begin nou vir ons 'n moeilike pad. Wat moet ons doen. Moet ons maar aangaan en dit ignoreer. Maar dit is dan teen die Bybel.

Jesus sê persoonlik in Markus 16: Die volgende wondertekens sal voorkom by die wat glo. In my Naam sal hulle duiwels uitdrywe; in nuwe tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande ople, en die sal gesond word.


 My Kerk se handboek.  Of Jesus?

Wat nou? Ek is lief vir my kerk. Ek is lief vir Jesus. Ons gesels en oorweeg wat ons moet doen. Dit is nie lekker nie. Vir byna veertig jaar is ons al in die kerk.

Na half slapelose nagte besluit ons om doe predikant te gaan sien.

Mense genees in die Naam van Jesus




Ewe skielik begin Driekie winde opbreek na etes. So erg dat sy vir 'n halfuur tot 'n uur so aangaan. Ons kan dit nie verstaan nie. Ons gaan na Dr Boonzaaier ons huis dokter. Hy kon nie fout kry nie.



Kamtige Dikderm Moeilikheid

Hy stuur ons Klerksdorp toe.  Na 'n Spesialis toe.


Die doen sy ding en hy besluit sy het dikderm moeilikheid. Nou kom ons by die slegte deel. Sy moet net sekere kossoorte eet. Ek kan nie ers meer onthou wat sy moet uitsny nie. Ons aanvaar dit maar so.

In die tyd kom oom Hennie weer kuier en hy nooi ons na 'n kerk in Klerksdorp. Hy het onthou van my liefde vir die mooi liedjies en die Haleluja boek. Hy verseker my dat daar nie gepreek word nie. Ek het vir hom gesê ek stel nie belang in ander kerke nie.

Die sang aand was fantasties en ek het elke oomblik daarvan geniet. Dit was so lekker om saam met die ander uit volle bors te sing.

By die einde van die aand staan HELENA die pastoor se vrou op en se: "Hier is iemand met 'n allergie. Kom voorentoe ons wil vir jou bid". Toe ek weer sien staan Driekie daar.

Helena bid toe vir haar vir lewer moeilikheid. Sy het niks geweet van Driekie se wind opbreekery nie.

Ons is die aand huistoe. Haar windopbrekery het opgehou. Wanneer? Ons weet nie.

Nou byna dertig jaar later en haar wind opbrekery is nog steeds weg.

Ons begin dink oor siekte.
Hoe kan jy met siekte praat en hulle luister.

Helena hulle sê vir ons die volgende: Siekte is van die duiwel. God genees.

Die duiwel gaan probeer om terug te kom.
.
Weerstaan hom en sê vir hom: "GAAN IN DIE NAAM VAN JESUS"

Jy MOET bedoel wat jy sê.

Baie dankie vir hierdie wonderlike raad.

Tot vandag toe het ons bonatuurlike wonderwerke ondervind deur te staan op die

NAAM WAT BO ELKE NAAM IS
J E S U S



Friday, March 16, 2012




Ek Moet Vergewe

Ek lees in Markus 11 hierdie woorde.

En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is , ook julle oortredinge nie vergewe nie.
 
Vergeef as julle iets teen iemand het.
Hierdie woorde het met my gepraat.

Ek het gewonder hoe vergewe ek iemand wat lank terug met my lelik was. Hy sal mos nie eers meer onthou dat hy my seer gemaak het nie. Toe sien ek dit gaan nie oor hom nie. Dit gaan oor my.
Toe wonder ek hoe doen 'n mens dit?

Sê ek Piet ek vergewe jou? Dit voel asof niks in my gebeur nie.

Wednesday, March 14, 2012

Wie glo en gedoop is, sal gered word!


Oom Hennie nooi ons na Koos en Bets Els in Klerksdorp. Hulle is al lank op die pad en hulle bid vir mense wat tot bekering gekom het. Hulle luister fyn vir die Heilige Gees.

Hulle vertel van hulle ervaring met die Here. Hulle het mense gehelp wat allerhande verkeerde dinge gedoen het.

Hulle het die Woord met ons gedeel en was dit heerlik om na mense te luister wat prakties met die Woord werk.

Hulle was nog besig om met ons te deel toe ek hulle stop en vir hulle se: "Ek wil Nou gedoop word". Driekie het presies dieselfde gevoel en ons is in hulle bad gedoop. Hulle het mooi aan ons verduidelik dat die doop 'n aflegging van die ou mens is en dat jy nou opstaan as 'n nuwe mens in die gees.

Rom 6:3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

Rom 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Rom 6:5 
Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;

Rom 6:6
aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
Dankie Jesus. Wat 'n voorreg om gehoorsaam te wees.

Ons het met ons harte brandende in ons terug gery Delareyville toe.



Driekie sê Ja vir Jesus


My Pad met die Kerk

Ek het vir Jesus Ja gesê. Ek het nou die eerste stap gedoen op die nuwe pad. Wat gebeur het in die gees is ek oorgeplaas uit die koninkryk van duisternis na die Koninkryk van Lig.
Ek het tot bekering gekom. Al wat ek weet dit het my gevoel of my bors wil bars. Ek wou s soos die Emmausganger "Het ons hart nie warm geword in ons nie" Ek het so 'n begeerte gehad en het dit nog steeds om Jesus beter te leer ken.

Die Nuwe Testament word deur ons verslind. Ons sien van die doop. Maar jy moet weet my ouers het my gedoop toe ek nog 'n baba was. Ja maar in Markus 16 staan die woorde deur Jesus gepraat: " Wie glo en gedoop is sal gered word"

Ja dit is wat ek wil he! Ek weet nie hoe en waar nie. Intussen sien ek Jesus wandel in die Woord.

Ek sien tekortkominge in ons ere dienste. Ek is baie lief vir die Haleluja boekie en die liedere wat ek van kleinsaf beleef het. In 'n kerksraad vergadering vra die leraar dat ons dit moet verwyder uit ons geledere. Ek skop tee. Dit help niks. Daar word gese dat die liedere mensverheerliking is en is nie tot eer van God nie. Daardie mooi liedere is toe uit.

Dis droog in Delareyville. 'n Biddag vir reen word gereel. Die kerk is vol. Al drie die gemeentes kom bymekaar. Ek wys plekke aan. Toe die diens begin kry ek 'n plekkie naby die orrel op die galery. Die Dominee bring sy boodskap. Hy vra toe vir gebede. 'n Paar van die Ouderlinge bid. Ek kry 'n begeerte om te bid. Ek glo dit is deur Jesus daar geplaas. Ek stry daarteen. Dankie tog die predikant het opgestaan. Ek is vry. Sy Woorde: Sal een van die broers vir ons afsluit. Ek hert geen keuse gehad nie. Ek kan nie eers onthou wat ek gebid het nie.


Intussen sit my vriend en mede koorlid op die trappe van die kerk. Hy hoor my bid en kry die begeerte om my te kontak. Hy maak 'n afspraak en kom kuier by die huis. Man was dit nou lekker. Hy het ook ernstig met die Here geraak en hy vertel wat hy in die Bybel raak geloop het. En ek vertel wat ek gesien het.

Driekie, dis nou my vrou sit en luister wat ons gesels. Sy gaan toilet toe en vra vir die Here sy wil ook he wat ons het. Sy antwoord:"Sê net vir My Ja. En sy kom uit haar kassie by ons aan. Opgewonde. Ek het vir die Here Ja gesê. Dit voel so wonderlik





Tuesday, March 13, 2012

My Ontmoeting met Jesus

27 Desember 1981

Ons kom van Bloemfontein af. Ek moes eers by die kafee stilhou vir sigarette. Ek koop 2 pakkies Lexington. Dit was vir my redelik lekker om te rook. Ek het al 'n paar keer probeer om op te hou met rook. Die aand nadat ek al dik gerook was besluit ek "Dit is nou genoeg"  Die volgende oggend by 10 uur nadat ek al 'n klomp sigarette gerook het onthou ek my voorneme.


Die volgende dag gaan ek aan soos gewoonlik. Ek werk lekker. Ek is in beheer van die kantoor met drie drywers. Teen half twaalf is daar net drie sigarette oor. Ek kry die begeerte om op te hou met rook. Hierdie gedagte kom by my op: "Ek wens ek kan ophou rook". Amper soos iemand wat regtig met my praat. Hierdie woorde.
"JULLE KAN DIE HERE BAIE DINGE VRA, VRA HOM"

Ek ignoreer die gedagte. Ek rook die volgende sigaret. Deksels nou is daar net twee oor. As ek nou sigarette gaan koop dan rook ek  sestig 'n dag. "Christo soos jy nou aangaan gaan jy jouself dood rook" Weer "Ek wens ek kan ophou rook" Weer die stem in my kop."JULLE KAN DIE HERE BAIE DINGE VRA, VRA HOM"

Nog een. Ag nee. Nog net een oor. Weer spreekek die wens uit. Weer kry ek dieselfde antwoord.  Ek besluit. "Top" Dis wat ek gaan doen.

Ek kry lus vir 'n sigaret. Vat die Pakkie. Kyk na die een sigaret. My volgende woorde: "JESUS HELP" Ek kry die gedagte om buite toe te gaan. Ek loop so 'n draai en haal 'n paar keer diep asem. En die vars lug in my longe gee my 'n "high" wat geen sigaret my nog gegee het nie.

Nou elke keer as ek lus raak vir 'n sigaret, stap ek buitentoe en sê: "JESUS HELP" En weer daardie lekker gevoel.

Ek doen dit elke slag en teen die einde van die dag het die laaste sigaret nog daar op die hoek van die tafel gelê. My vrou wat vreeslik graag wou hê ek moet ophou rook,weet nog van niks nie.


Die Eerste Januarie verjaar my vriend, Eli, hy bied my 'n sigaret aan. Ek sê: "Nee Dankie"

Na die derde keer wat hy aanbied en ek dit weier sê Driekie: "Jy rook nie meer nie" Haar stem vol blydskap. 

Dit moet jy weet, sestig keer 'n dag het ek my hand in my sak gesteek vir 'n sigaret. Nou sê ek sestig keer 'n dag "JESUS HELP"

Hy het gehelp. Ek het nog nooit weer aan 'n sigaret geraak nie. Ja baie keer gedroom ek rook en dan was ek so terleurgesteld. Die volgende oggend "Dankie dit was net 'n droom"

Hierdie was die draaipunt in my lewe. Ek het tot die besef gekom dat Jesus meer is as net woorde. Hy gee so baie beloftes in sy Woord en ek het dit ernstig begin opneem.

DANKIE KONING JESUS










Monday, March 12, 2012

My Pad met Jesus

IN DIE WOESTYN VAN HOOP


Ek het groot geword in 'n tradisionele kerk. Ek is gedoop toe ek baba was. Ons het elke Sondag kerk toe gegaan. Ek het ook die Sondagskool bygewoon. In Standerd nege het ek ons Katkisasie klasse bygewoon. Daar was baie leerwerk uit ons Katkisasie handboek. Ons het onderhoude gevoer met die Hoof ouderling en hulle het besluit of jy kan toegelaat word tot die gemeente. Almal van ons is aanvaar en ons is die Sondag Voorgestel en Aangeneem. Van die ouens het gesê ons het nou die wyn lisensie gekry. Ons het nou aan die kerk behoort.


Die pad voorentoe was maar snaaks. Wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, het ek kerk toe gegaan. Dit was seker maar die regte ding om te doen

Die leë gevoel het ek nie eers van geweet nie, want ek is mos reg. Daar is gesê as julle bang is om hel toe te gaan, dan gaan julle hemel toe.

Intussen is ek getroud met 'n pragtige vrou. Ons kom albei van ouers af wat gereeld kerk toe gegaan het. Ons het ons kinders laat doop.

Ons land toe op Delareyville. Ons was toe redelik ernstig met ons kerk besoek. Soveel so dat ek gekies is as diaken. Op 'n stadium was ek aangestel as hoof diaken. Volgens die ouens was ons redelike goeie Christene. 

Saturday, March 10, 2012

Die Doel van die Blog



JESUS IS ABSOLUUT FANTASTIES


Doelwit: Ek het 'n stryd gehad met die waarheid van die Woord. Ek het gesê die Ou Testament is vir die Jode van daardie tyd. Die vier evangelies is Jesus se wandel op aarde.

Hy het baie wonderwerke gedoen en baie wonderdade gedoen. Die res van die Nuwe Testament is Paulus se wandel met die Here. Dit het niks met my te doen nie.

Toe gaan my oë oop.

TOTDAT: Eendag lees ek Johannes  En hierdie woorde van Jesus het my getref:
Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo.
Joh. 17:20 




Jesus het hier vir sy disipels gebid. Maar nou bid Hy vir die wat deur hulle woorde in Hom sal glo. Maar as dit die geval is dan bid Jesus mos vir my.


Dit het my hele gesindheid verander.


Ek het met ander oë na die Nuwe Testament begin kyk. Is alles wat Jesus kom doen het en gesê het dan nie betrekking op my nie.


Paulus gaan woestyn toe vir 'n periode van 3 jaar. Jesus openbaar 'n klomp dinge aan Hom onder andere die Nagmaal. Dit wat Paulus skryf oor die Nagmaal is presies wat Jesus vir sy disipels gesê het


Ek het besluit dat die Woord vir MY is. Ek wil Jesus leer ken. Ek wil Hom dien met alles in my. Ek het vir ons die Nuwe Testament op band gekoop en dag en nag daarna geluister. Dit was so vir ses maande. Ek het dinge geleer


Die belangrikste van alles is. as Jesus iets gesê het wat ek moet doen, dan wil ek dit doen.


DIT IS DIE REDE VIR HIERDIE BLOG. DIT WAT ONS GELEER HET WIL EK MET JULLE DEEL.