Die duiwel wou my vrou se lewe steel.
Jesus gebruik ook Dokters om sy werk te doen!
Mei 2006
Saterdag ry ons fiets op Vanderbijlpark. Lekker koel windjie.
Ek ry die 40 km. Driekie ry saam met haar kleinseun Drickus die 10 km
Ons almal het dit baie geniet. Ons kuier by ons dogter Sanet op Sasolburg.
Die middag kla Driekie oor 'n effense hoofpyn. Sy steur haar nie daaraan nie
Sondag kla sy nie. Die middag ry ons Secunda toe. Dis nou die plek wat jy kan sien wat jy inasem. Ons bly in Trichardt. Dis reg langs Secunda. Steenkool en brandstof is verantwoordeik vir Secunda se ontstaan.
Driekie konk uit
Maandag aan die ontbyt tafel. Ons sit en gesels . Ek kyk na Driekie en haar oë staar dak toe. Iets is fout. Ek roep haar naam. Geen reaksie. Wat nou?
Ek help haar grond toe. Sy word naar. Ek gaan haal vinnig 'n emmer. Sy gooi op. Sy's bietjie deurmekaar. Ek laat haar op die grond lê. Dis wat ek gedoen het met die epilepsie. Hierdie ding is anders.
"Driekie kan jy opstaan" Sy probeer. Hier is groot fout. Haar krag is skielik weg.
Ek help haar kamer toe op 'n matjie. Sy help en ek sit haar in die bed. Ek bel die dokter. Sy aanbeveling. Pynpille. Ek los haar by die huis en ry apteek toe. Niemand om na haar te kyk nie.
Terug by die huis gee ek haar die pille met water. Sy sluk dit en gee die glas terug.
Driekie Sterf
Sy sak terug op die kussings en kreun: "O MY KOP!" En sy blaas haar asem uit.
Ek kyk na haar. Ek wag vir die inasem . Niks. Ek wag nog. Steeds niks. Goed. dan "CPR". 25 Jaar gelede op 'n pop saam met 'n klomp mans het ons noodhulpklasse bygewoon. Dit was 'n groot grap.
Nou moet ek dit doen. My eerste gedagte. Saterdag 10 km fiets gery. Sondag effense hoofpyn. Nou dood. "No ways." Ek het glad nie gedink aan dood nie. Ek het besluit ek sal nie ophou blaas nie. SY SAL LEEF!
Ek onthou. Kop af, skouers op. Ek begin blaas. Die lug kom uit deur die neus. O K druk die neus toe. Blaas die lug wil nie ingaan nie.
Die tong het terug gesak. Blokkeer die lugpyp. Dan harder blaas. Ek doen 2 hart masserings en sê elke keer "Driekie haal asem" Ek stoei. Partykeer vat ek die tong en probeer hom uit die keel uit trek. Hy gaan net eenvoudig dadelik weer terug.
My bene is lam langs die bed. Elke keer "Driekie haal asem."
Ek onthou die selfoon langs haar, Ek skakel my dogter Daleen. Sy bly in Secunda. "Kry vir ons 'n ambulans of 'n dokter" Ek dink aan suurstof.
Toe gaan ek aan en nou sê ek nie meer "Driekie haal asem" nie
Met elke blaas "Jesus Help" Ek blaas hard. Skielik kry ek die idee om haar kop langs die kant van die bed af te trek. Nou lê ek omtrent op my maag en blaas, Elke slag "Jesus Help" Ek het glad nie aan dood gedink nie.
Ek het nog so geblaas toe hoor ek 'n sagte insuig geluid. Uuurg! "Yes Yes" Dit was die mooiste geluid wat ek nog gehoor het. Nog 'n paar blase toe haal sy self asem. DANKIE JESUS.
Dit was 'n gespook van 20 minute, maar sy LEEF. DANKIE DANKIE JESUS
Dokter toe
My dogter en 'n jong man daag op. Ons dra haar kar toe. Dit was moeilik sy was heeltemal slap. In die kar gooi sy op. Ons jaag dokter toe. Op pad gooi sy nog op. Ons keer met 'n baadjie van Daleen. Die dokter het net een kyk gegee. "Hospitaal toe".
Dis nou Evander Staatshospitaal. Hulle ontvang haar dadelik. Hulle sukkel om haar bloed druk te neem. Byna geen druk nie. Hulle wil 'n "drip" opsit. Hulle sukkel lank om 'n aar te kry.
Hulle besluit sy moet na die groter hospitaal in Witbank gaan. Sy's toe Witbank toe met die ambulans. Ek en Daleen is agterna met my kar.
Verwarring.
Hulle neem plate en besluit sy moet Pretoria Akademies toe gaan. Ek vra vir die Ambulans manne wat gaan hulle doen. Hulle antwoord: "Die ambulans is in 'n swak toestand. Ons gaan terug Evander toe" En hulle ry.Nou wat nou. Evander kon juis niks doen nie. Ons besluit om terug te ry Evander toe. By die hospitaal. Niks. Hulle weet nie waar Driekie is nie.
Ons ry Pretoria toe en kry haar daar. Nog baie deurmekaar, maar O K.
Die volgende oggend.
Driekie leef, maar die regter oog kyk skeef en sy is siek. Wat 'n skok die vrou wat ek liefhet is heeltemal skeel. Ek hou my sterk en troos haar so goed as wat ek kan. Bederf haar met eetgoed.
Prof Shapiro en sy span ondersoek haar en hulle laat brein skanderings doen.Ek bly by Hennie in Culinan. Ek slaap die nagte daar en bedags gaan ek hospitaal toe. Driekie wil nie hê ek moet huis toe kom nie.
Drie weke van wag. Drie weke wat ek in die parkeer area deurbring Dit lyk of hulle nie weet wat om te doen nie. Dan besluit hulle om more te opereer. Ek wag in die wagkamer om te hoor hoe laat.
Die volgende oomblik kom Eddie Gurnell ingestap. Hy is nie meer by Akademies nie. Hy is by Little Company of Mary. Hy's die een wat gesê het vyftig vyftig, maar oor die ander vyftig bid ons.
Toe hy my sien sê hy: "Mnr van Tonder wat doen jy hier" Hy het my onthou en hy vra wat gaan aan. Ek sê hulle moet opereer. Sy opmerking: "Daardie klip. Laat ek gaan kyk"Hy werk nie meer daar nie. Wat het hy daar kom maak? Ons glo Jesus het hom gestuur.
By Driekie aangekom vra hy haar hoe gaan dit? Sy kyk in sy blou oë en sê vir hom sy sien dubbel visie. Dit het gelyk of die ander dokters haar nie verstaan nie. Hulle weet mos nie of sy van nature skeel is nie.
Hy het na die ander dokters toe gedraai en vir hulle gesê hulle moet nog toetse doen.
By my aangekom vra ek hom of hy sal bystaan met die operasie. Hy't gesê hy sal en hy het, alhoewel hy niks gekry het vir die operasie nie.
Ons het nog 'n week gewag vir die groot dag.
Sukses
Na die operasie het ek hom en Dr Joubert raakgeloop en gevra hoe dit gegaan het. Sy antwoord was. "Dit gaan goed. Dis die klip wat haar wou doodmaak. Hy het haar brein ingedruk. Toe ons hom weg geboor het, het die brein opgestaan en in sy normale posisie gaan lê".
Dankie Dokter!
Toe ek by haar kom het die oog al reg getrek. Was ek bly en dankbaar.
Sy sê die regter oog is nou 'n bietjie stadig, maar dit hinder haar nie.
Haar susie se gewas was so kwaad dat haar brein uitgepeul het.
Nie een van die 3 gewasse was kwaadaardig nie. Na 3 dae was Driekie by die huis en sy is gesond tot vandag toe.
No comments:
Post a Comment